KAMP-se-DINGE …… Onthou jy?

(Uittreksel uit “Die Pinksterboodskapper 2005)

DIT WAS TYD VIR KAMP EN DAAR IS ‘N VIBRASIE IN DIE LUG ………

Teen Maart, April van elke jaar was daar so ‘n vibrasie in die lug.    Karavane was nagesien, jou beste van beste klere het jy nagegaan, en kon jy glimlag vir die skaal wat oorwinnend vir jou wys die pondjies begin wegsmelt waaraan jy alreeds vanaf Januarie so hard werk om afgeskud te kry – want sien – dit was tyd vir Kampkonferensie vir ons Kerk, en jou kleertjies moes lekker pas!

Weke voor die Kampkonferensie sou begin,  was Maranatha Park alreeds in rep in roer.  Die Tabernakel was van hoek tot kant skoongemaak, en haar pronkklere was uitgehaal en gestryk; haar kinders sou by die duisende bymekaar kom, en sy sou hulle huisves.

So drie dae voor die aanvang van die Kamp, het die vibrasie in die lug gesak tot op die paaie van Maranatha.   Karavaan op Karavaan het oor die drumpel gewip met suster se mooiste rokkies en skoentjies, broeder se pakke klere en hempde wat by elke das pas, boeta se nuwe toerygskoene – die nuutste op die rak – en sus wat so vat-vat aan die sewentiens –  het haar sak vol mooimaakgoedjies styf vasgehou op haar skoot   – want op hierdie Kamp der Kampe het groot moontlikhede met wit kuiwe, breë skouers en blou oë rondgeloop!

Almal is opgewonde.  Ou vriende, maats, medewerkers en kollegas groet mekaar en gesels oor die onthou-jy-nogs.  Suster-Pastoor is in dié tyd net so effe meer gewonde as al die ander.  Ongemerk loer sy kort-kort in die tent se toemaak-klerekas na haar heel nuutste uitrusting:  Rokkie, skoentjies, handsakkie, hoedjie – als het so bymekaar gepas!  Susters van haar gemeente het hard gewerk   –    koek gebak, jaffles verkoop, pannekoekaande gereël om geldjies in te vorder,  want suster-pastoor móés net eenvoudig op dié dag der dae op haar heel beste lyk!

Daar was elke jaar, sommer die eerste Saterdag al, ‘n vroue byeenkoms waar honderde vroue bymekaar sou kom, want dit was Dorkaskongres.    Verbeel jy jou of sou die Tabernakel op so ‘n dag haar bors so effe meer uitstoot  – haar vroue lyk inderdaad fyn uitgevat,….. en hoor jy haar sagte sug van genoegdoening!     Duisende rande het op hierdie dag hul weg gevind na die Welsynkoffers om te help waar die nood die grootste was.

Die vibrasie het verskuif van die pad tot binne in die Tabernakel.   Dis Werkersraad!  Hier is sake ernstig.   Verslae op verslae word voorgelees.  Vrae op vrae word geduldig en wys beantwoord.  Wette word herbevestig en regulasies word aangepas.   Elke drie jaar stem jy vir nuwe Ampsdraers vir die Kerk.  Geen wonder dat almal destyds in verwondering was oor die stil seun wat so jonk as President verkies was nie!   Jy onthou nog toe Suster hier neffens jou met trots gesug het: “Oe, hy’s die jongste President ooit, en kyk net daai breë skouers!”

Kamp-se-dinge gaan gepaard met juigende skares, uitstaande musiek,  dinamiese predikers en kaneelsuiker-pannekoek!   Almal hou Konferensie  –  jy sing, jy bid, jy kuier, jy eet en jy lag!  ……….. ONTHOU JY?!

Posted in Lang Staaltjies | Leave a comment

Roy se ore

Die Pastoor kondig aan dat hy vanaand vir die siekes en almal met ernstige probleme gaan bid.

Die kerk is die aand uitgepak!

In die gehoor het Roy Manning gesit – ‘n Engelsman.

Toe die Pastoor almal uitnooi het Roy ook voor gaan staan.

Pastoor kom by hom en vra wat is die probleem waarvoor hy kan bid.

Roy antwoord toe in Engels: “Pastor, I need you to pray for help with my hearing”

Pastoor druk sy vingers in Roy se ore, en met ‘n entoesiasme en erns bid hy vir Roy, en die Gemeente bid ernstig saam!

Pastoor verwyder sy vingers, tree so effens terug en vra toe:

“Brother how is your hearing now?”

Roy antwoord:  “I don’t know.  My hearing is next Thursday”

Posted in Lang Staaltjies | Leave a comment

Toe reën dit

Past Hannes is ‘n formidabele Pastoor  –  baie geseënd,  is regdeur die land bekend, trek groot skare en het ‘n vurige gesalfde bediening.

Hy is ook baie lief vir sy huisgesin, en sy kleinkinders speel ‘n belangrike rol in sy lewe.

Toe breek daar ‘n droogte in ons Land uit wat mens en dier stom laat.   Oraloor kom honderde mense bymekaar en roep na ons Vader om reën te stuur.

Past Hannes staan een oggend op sy verdroogde grasperk en kyk met deernis na alles wat rondom hom aan’t vergane is.   Hy hef sy stem op en vra ons Heer om reën te stuur;  maar bid die volgende eienaardige woorde:   “Here, ek vra vandag dat U reën vir ons sal stuur, maar stuur ook spesifiek reën vir my!”

 Hy staan nog so biddend vir twee of drie minute, en sowaar die volgende oomblik begin dit op hom reën.  Hy’s verbaas!   Kan dit skaars glo!  Sy hare en skouers is sopnat!

Hy tree so paar treë weg waar dit droog is, en ja waarlik, hier reën dit weer op hom – nét op hom;  nie reën op die gras of blomme nie!   Hy’t nie woorde nie!   Dit voel vir hom asof hy te midde van ‘n wonderwerk staan!

Hy besluit om nog so drie tree na regs te beweeg, en tot sy algehele, uiterste verbasing reën dit weer nét op hom.    Hy kyk met verbasing en verwondering op na die hemel, en sy oog vang sy kleinseun, die agtjarige Morné wat met sy waterpistool op die balkon staan en sy oupa natspuit!

Past Hannes roep na hom:  “Morné, wat dóén jy?”

Morné antwoord ewe bedeesd:  “Oupa, ek het gehoor toe oupa bid vir reën, en ek het jou só jammer gekry oupa, toe dog ek, ek wil oupa net ‘n bietjie help!”

Posted in Lang Staaltjies | Leave a comment

Daar’s stilte in die Voordrag

Vrydagaande was vroeër jare baie gewild in ons Pinkster-Kerke  – dit was Jeugdiens-aande!

Jongmense, en sommer eintlik almal, het graag die Jeugdienste bygewoon.   Daar was gewoonlik so drie of vier itemme gelewer en dit het die aand altyd interessant gemaak.  Daarna sou die Jeugleier of Jong Pastoor ‘n boodskap bring en na die Diens het die jongmense altyd om die klavier saamgedrom en verder “sing-songs” gesing

Dit was ‘n Vrydagaand hier in die middel 70’s

Dié aand was Dina gestewel en gespoor om haar item te lewer.   Sy het al vroeg in die week belowe om iets ouliks voor te dra, en het sy ure geoefen aan haar voordrag.

Toe dit Dina se beurt is, stap sy ewe waardig tot op die kansel,  kyk die gehoor vas in die oë en begin vlot met haar voordrag.   Dina het mooi gevorder tot so in die middel van die voordrag, en daar haak sy vas.    Sy word eers spierwit-bleek in haar gesig, byt haar onderlip vas, maar Dina staan en staan.  Sy kan nie ‘n enkele woord verder praat nie.

Die stilte rek en rek, en jy kan die spreekwoordelike speld hoor val.

Na nog ‘n paar oomblike van ongemaklike stilte, staan die Jeugleier op, neem haar saggies aan die arm en sê bemoedigend: “Gaan sit maar, hoor”

In plaas van om maar net aan te gaan en die volgende item aan te kondig, sê die Jeugleier die volgende : “ons sê baie dankie vir Suster Dina wat so pragtig voorgedra het.  Die oomblikke van stilte wat daar was, was…….goddelik!”

Posted in Lang Staaltjies | Leave a comment

En toe kom ons weer bymekaar!

7 Mei 2019: Emeriti Pastore en hul Vrouens kom bymekaar vir ‘n heerlike Oggend van saamwees: Saam-sing, saam-kuier, saam-eet

 Met verwondering stap  jy in die formidabele Kerkkompleks van Familia Dei in.  Dis groot, dis modern, dis skoon, dis mooi!

Mense staan oral-gesellig en tee drink, groet, lag en gesels –  Manne en vroue wat jare lank in die bediening gestaan het, jare die wa deur die drif moes trek, jare die vlag omhoog moes hou!

Die 2 Pastoorsdogters  (onderskeidelik van Harry Ellis en oorle’ Eddie du Preez) wat ons lei met Sange verwonder jou nóg meer.  Met uiterste bekwame musiek-taktiek speel en sing hulle vervloë dae se koortjies alles met ‘n tikkie moderne gospel en charisma omhul.

Dit was eers toe hulle passievol  in Duet-formaat die lied “To God be the Glory” aanpak,  dat hul uiterste bekwaamheid en korrekte akkoord-verwerkings van hierdie lied jou verstom laat en jy oorstelp is van opgewondenheid!

Dis Johan Steyn wat almal bekoor met sy uitdagende boodskap:  “Jy is gebore om te sterf, maar jou wedergeboorte is die inleiding tot die ewige lewe”,  terwyl jy staar na die rooi kruis wat op die verhoog staan.

Dis ou Tantetjie wat saggies vra-sê: “Hygend hert hartjie! Wat vir ‘n rooi deur is daar neffens die rooi kruis?” Jy mik nog om te antwoord, dan spring ‘n ander ou stemmetjie van haar vriendin jou voor met:  “Dis vir ‘n konsert jong!”  en jy kan maar net glimlag!

Dis wonderlik om “jou mense” te sien. Jou hart pyn as jy nie almal herken nie, en jy dink terug aan Maranatha waar jy elke jaar die kans kon kry om jou geheue oor elkeen op te gradeer en te verfris.

So met die heerlike ete saam, luister jy na die seer-verhale van vroue wat nou alleen agtergebly het. ‘n Verslaentheid pak jou beet oor hul ontnugteringe, hartseer en selfs trauma ondervindinge.

Jy luister na afskeidswoorde aan mekaar:  “sien julle weer”, “sal op Facebook kyk”, “kontak jou op Whatsapp”  en met deernis dink jy aan twee ou vriendinne Bets en Saarkie wat saam op Laerskool, Hoërskool en Onderwyskollege was. Dekades saam in een Gemeente.

Snoesig sit albei nou alreeds 89 jaar oud, op die stoep van ‘n Huis vir Bejaardes.  Dan draai Bets na Saarkie en vra saggies: “Wat is jou naam nou weer?”  Na ‘n láng ruk se stilte, draai Saarkie haar kop na Bets en sê: “Sal jy omgee as ek jou môre sê?!”

 

Posted in Lang Staaltjies | Leave a comment

KAMP – 22

Woord-en-Lewe Emeriti Kamp 1-5 April 2019

 Met groot, innige dank en waardering aan Woord en Lewe Netwerk asook aan Familia Dei Streek vir jul insette, belangstelling, fondse, ondersteuning en omgee.  Julle het ons nie vergeet nie!  

                                                                             -oOo-

Dit was nie die mooi plek met sy lieflike blyplekkies wat jou die meeste bekoor het nie.  Die stories rondom die tafels, menslike verhale, onthou-jy-nogs het jou vasgegryp en laat vasplak aan die stoele in die Eetsaal. Jy lag, jy luister, jy raak bewoë.

Verbeel jy jou of wil-wil jy Maranatha se kamp hier voel-voel……. Die kuiers en die reuk van heerlike kosse?

Harry Ellis roep met ‘n luide stem soos ‘n wafferse Sammajoor sy reëls en regulasies uit.  Hy’s georganiseerd, gemotiveerd en gedetermineerd!  Dae en nagte se beplanning verloop puik en vlot.  Hy en sy spanne maak die lekkerste kosse.  Niks is uit plek nie!

Margie Ellis vertel met innigheid oor “Praat-Met-Jou-Lyf “.  ‘n Dinamiese omswaai-denke, en jy verluister jou.

Dis Etresia Evans wat ons seën met lieflike gedagtes oor Psalm 121. En jy wonder oor al die godes se name wat sy een vir een opnoem.   Maar Dawie Grobbelaar  kom kry dit die volgende middag heeltemal reg om ons oues uit ons stoele te laat opvlie met ‘n vaart van krag en spoed wat jy nie eers kan onthou jy ooit gehad het nie, toe hy vining en luid waarsku:  “Julle, julle!  Gaan maak toe die vensters….die blou ape is in troppe hier!!

Teen die aand word gebraai. ‘n Groot vuur word aangesteek en terwyl dit kraak en knetter word daar gesels, gelag en gekuier.    Dis toe dat 4 mense gekies en uitgestuur word.   Daar word aan dié wat sit verduidelik dat die uitgestuurders een-een gaan inkom en ‘n Dier sal demonstreer.  Maar ons groep moet heeltyd verkeerd raai.  Dis onse Amelia Roode  wat als reël.   Marinda Smith kom in met ‘n gemaaiu en ‘n ge-purr van ‘n klein katjie – ons raai: Renoster, Eendvoël, Olifant, Ystervark!  Harry is volgende en skel-lag verbete soos ‘n hiënna. Ons skreeu: Hond, Kat, Voeltjie, Perd!” Johan Smith kom met ‘n hop van sy onderlyf ingehardloop en na-aap onverbeterlik ‘n Donkie met ‘n ernstige gasvrye-maagprobleem, maar almal raai: Vark, Dolfyn, Kameelperd!.    Dis toe Frikkie, onse agbare Busbestuurder inkom met ‘n weggesteekte bottel water toegedraai onder sy T-hemp, en blaf soos ‘n hond, sy been optel en ons natspuit, dat almal gil en lê soos hulle lag!!  Iemand roep-lag:  “Oh lord!”  en so tussen als deur hoor jy‘n hoë skril stemmetjie met “siesa jou vark!”

Frederick Poggenpoel bring ons almal terug na meer geestelike sake tydens sy “Verbly julle altyd” die volgende aand,  met Johan en Marinda wat toentertyd se liedjies sing en speel

Maar die tweetjies wat jou die meeste raaisels besorg en kop laat krap is Petra Poggenpoel en Amelia Roode.   Sê mos hulle is sussies.   Jy glo hulle, want nie net lyk hulle na mekaar nie, maar albei is ewe kort in die lengte.  Amelia treat almal met soeterny-melkskommels, maar dis Petra wat met ‘n stoute glimlaggie saggies in jou oor kom sê:  “ons is nie rêrig sussies nie, hoor!”

 En so op die einde van alles met tasse gepak, en ‘n laaste foto neem, dink jy terug aan die getuienis van ou stil Piet wat nooit-ooit ‘n woord tussen mense kon praat nie.   Vra die Pastoor mos vir ou stil Piet om tydens ‘n propvol uitgepakte oggenddiens te kom getuig van laasweek se Gemeentekamp.  En na ‘n groot stilte, wat jou amper wou laat ongemaklik voel, haak ou stil Piet af met:

“Kamp het ons gekamp, kuier het ons gekuier, eet het ons geëet!”

Posted in Lang Staaltjies | Leave a comment

Hans en die Hond

Pastoor Abrie reël een Sondag ‘n groot spesiale Diens. Hy het hierdie Diens oral aangekondig en wyd geadverteer, soveel so dat tot die Bakker van die Dorp, ou Hans Kortje, wat amper nooit kerktoe kom nie, ook besluit het om die diens by te woon!

Kort voor lank was die Kerk uitgepak en die orkes speel ewe lustig die een koortjie na die ander.  Hans kom net so voor nege ingestap en kry op die heel agterste bank ‘n plekkie om te sit.

Terwyl die Gemeente lustig sing en ‘n wonderlike atmosfeer oor die gehoor hang, kom ou Ore die bure langs die Kerk se hond, ingewaggel en gaan plof homself van alle plekke reg langs Hans neer.   Nugter sal ooit weet waarom ou Ore nou vanòggend lus was vir hierdie klomp mense!

Terwyl Pastoor preek, begin Ore homself te krap, en dan begin sy een poot teen die bank kap.   Naderhand gaan dit so:  krap…kap;  krap….kap. Hans raak so geïrriteerd en probeer die hond paai, maar elke keer knor ou Ore vir hom!

Toe die Gemeente agterkom van hierdie petalje, en almal begin rondskuif en agtertoe kyk, vra Pastoor vir Hans om die hond te probeer uitvat na buite

Dis toe dat Hans sommer kliphard, ontsteld en vinnig afhaak  met:  “Maar de donner wil my byt!!”

Posted in Lang Staaltjies | Leave a comment

Peper in jou mond!

Pastoor Kosie hanteer ‘n groot Gemeente, en een naweek reël hy ‘n allemintige Sondagskool-Kindernaweek.

Almal moes saamwerk. Pamflette en biljette is versprei. Plakkate is oral aangebring teen lamppale.   Die besoekende Pastoor Ollie, was ‘n uitstaande en baie populêre Kinder-prediker.  Kinders en hul ouers het gestroom na die kerk!

Die Sondagoggend is die Kerk uitgepak van hoek tot kant.   Kinders moes naderhand op die matte sit, om meer plek te maak vir die volwassenes.

Pastoor Ollie het begin preek, en die hele gehoor hang aan sy lippe.   Sy uitmuntende manier van praat met die gehoor is vir ‘n ieder en elk ‘n groot seën

Onder andere het Pastoor Ollie gepraat van hoe groot God is.  Hy sou   sê:  “God is groot, God is almagtig, God is genadig…..”   dis toe dat klein Henkie, wat deur ‘n Sondagskoolmaatjie uitgenooi was, sommer sy hand opsteek  –  in die middel van Past. Ollie se preek  –  en manhaftig afhaak met:

“Pastoor!  Jy sal nog so God…God dan gooi my Ma peper in jou mond!”

Past Ollie hap-hap nog verbaas na woorde, toe bars almal uit van die lag.  Henkie het so vinnig tussen die mense deur verdwyn;   niemand weet tot vandag toe wie het hom so blitsig uit die kerk gekry nie!

Posted in Lang Staaltjies | Leave a comment

Laat hom hardloop!  

Pastoor Van Vollen was in die vroeë 1900’s alreeds ‘n baie populêre en welbekende Pastoor. Eerlik en opreg. ‘n Oujongkêrel, ongetroud en baie aantreklik!

Almal het Pastoor Van Vollen geken; veral aan sy unieke manier van praat.  Hy het met ‘n stadige pas gepraat; het jou amper laat dink hy sleep sy woorde; hy’t sy erre gebrei en so met sy tong al sy esse gelispel.

So tussen die prekery en huisbesoeke deur, het hy rondgekyk na die mooie meisies  –   altyd opsoek na die regte vrou.   Op‘n dag vang enetjie sy oog. ‘n Pragtige meisie met lang blonde-rooi hare en haar naam was Rebekka.

Hy het halsoorkop verlief geraak, en so met sy gedagtes en al het hy met tyd aan haar begin dink as “my eie ou Rebekkatjie”.  Maar smoorverlief en al;  daar was ‘n probleem   –   ‘n ander jongman het in hierdie tyd by Rebekka vlerkgesleep.

Pastoor Van Vollen getrou aan sy opregte geaardheid, het altyd met ál sy probleme en moeilikhede na die Here gegaan.  Hy bid toe kinderlik só:

“Ag Heeeere, sy’s vir my so pragtag, my eie ou Rebekkatjie, en ek vra dat U daardie jongman wat so knaend by haar kuier, laat weghardloop……. ag Heeeere, hy moet so ver wegholle dat hy nóóóit weer terugkom nie!”

En toe gebeur dit!   Dit was nie lank nie of sy gebed is beantwoord. Kort voor lank was Rebekka alleen, en met tyd het sy haar hart verloor op hierdie mooie Pastoor en is hulle tweetjies toe getroud, en hulle was vir járe en járe gelukkig getroud!

Nodeloos om te sê dat niemand  –   tot vandag toe  –  weet waarheen die ander jongman wat vlerkgesleep het, ‘weggeholle’ het nie……!

Posted in Lang Staaltjies | Leave a comment

Die Item

In die outyd het ons op Vrydagaande Jeugdienste gehou.

Die gebruik was om altyd ‘n paar itemme te reël om die aand mooi in te vul voor die Jeugleier of Jeugpastoor sou preek.

Dié aand was dit Past Gys en sy vroutjie Drienie se beurt om ‘n Duet te sing.

Hulle het geoefen en geoefen en was heeltemal tevrede toe hulle opstap na die Kansel.   Min besef dat hul twee Seuntjies van 4 en 5 jaar hierdie geleentheid sonder Pa en Ma langs hulle, heerlik sou benut met stoutighede!

Hulle het perfek weggeval en sing al te lustig aan die mooi lied.   By die tweede versie hoor Past Gys aaklige skop-geluide teen ‘n kerkbank.  Maar sluit sy oë en gaan huiwerig aan met sing.    Net om daarna harde proesgeluide van hulle sitplek af te hoor.

Bloedrooi in sy gesig stop hy hulle Duet net daar en sê:  “Net ‘n oomblik broers en susters…..ons sal nou verder sing.   Daar’s seuntjies by vanaand se Diens  wat net ‘n bietjie dissipline kort….”   Arme Drienie staan verstar-doodstil  met ‘n  wit gesig wat wil-wil verkleur na nóg witter op die kansel. Sy beweeg nie een enkele ooglid nie!

Pastoor Gys stap ewe kalm af van die Kansel, gryp sy twee seuntjies aan hulle bo-arms, druk elkeen onder ‘n arm in en stap met hulle terug, en druk hulle eenvoudig onder die Kansel in!    Hy kyk so ewe na sy bleek-skaam vroutjie, kyk na die Gemeente en sê kalm -rustig:  “Laat ons weer met vers twee begin, Mamma!

Posted in Lang Staaltjies | Leave a comment